Post Normal

Kaalvoet Ekonomie

An Afrikaans translation of an interview with Manfred Max-Neef.
Jim Denevan / Beach Spiral / 2005
Manfred Max-Neef

Vanuit ‘n onderhoud met Manfred Max-Neef op Democracy Now!. Manfred Max-Neef is ‘n gerekende Chileense ekonoom en ‘n ontvanger van die Right Livelihood-toekenning. Hy is die outeur van From the Outside Looking in: Experiences in Barefoot Economics en Economics Unmasked: From Power and Greed to Compassion and the Common Good, wat eersdaags verskyn.



This article is available in:

Ek het sowat tien jaar lank gewerk in plekke waar die uiterste armoede heers: in die Siërras, in die oerwoud en die stedelike gebiede van Latyns-Amerika. En op ‘n dag, toe ek net daar begin werk het, bevind ek my in ‘n Indiese gehuggie in die Siërra in Peru. Dit was ‘n aaklige dag. Dit het heeldag lank gereën. En daar staan ek in die krotbuurt. En oorkant ons, staan daar ‘n ou in die modder – nie in die krotbuurt nie, in die modder. Hy was maar kort … maer, honger, werkloos, vyf kinders, ‘n vrou en ‘n ouma. En ek was die slim ekonoom van Berkeley. Ons staan en kyk vir mekaar, en skielik besef ek dat ek niks samehangend vir daardie man in daardie omstandighede te sê het nie, dat my hele woordeskat as ‘n ekonoom absoluut waardeloos is. Moet ek nou vir hom vertel hy moet gelukkig wees omdat die Bruto Nasionale Produk met vyf persent of iets gestyg het? Alles het absurd gevoel. Ekonome bestudeer en ontleed armoede in hulle gerieflike kantore, hulle het al die statistieke tot hul beskikking, hulle stel al die modelle saam en is oortuig daarvan dat hulle alles weet. Maar hulle verstaan nie armoede nie.

Ek woon in Chili, in die diep suide. En daardie gebied is bekend vir sy melkproduksie. Die tegnologie is tops, en die melkprodukte op elke denkbare manier die beste wat daar is. ‘n Paar maande gelede is ek toe daar in ‘n hotel vir ontbyt, en daar is sulke bottergoetertjies. Ek bekyk een. Dit was botter vanuit Nieu-Seeland! En ek dag: Is dit nou nie vir jou besimpeld nie? Hoekom gebeur so iets? Die antwoord is dat ekonome nie weet hoe om die ware koste van enigiets te bereken nie. Om 10 000 kilometer ver se botter te bring na ‘n plek waar jy reeds die beste botter maak, omdat jy reken dis goedkoper, is stomonnosel. Die ekonome neem nie die omgewingsimpak van 10 000 kilometer se vervoer in ag nie. En deels is die botter goedkoper omdat dit gesubsidieer is. Heel duidelik dus ‘n geval waar die prys nie die waarheid vertel nie. Dis alles kulkunsies. En daardie kulkunsies rig kolossale skade aan. As jy verbruik nader aan produksie bring, gaan jy beter eet, beter kos hê, weet waar jou kos vandaan kom en dalk selfs nog die persoon ken wat dit produseer. Jy gaan verbruik vermenslik. Maar hoe die ekonomie deesdae bedryf word, is geheel-en-al verontmenslik.

Ons het gekultiveerde ekonome nodig, ekonome wat die geskiedenis ken, wat weet waar idees vandaan kom, hoe die idees ontstaan het, wie wat gedoen het; en ‘n ekonomiese stelsel wat baie duidelik verstaan dat dit bloot ‘n substelsel van die groter stelsel van die biosfeer is. Vandag se ekonome weet niks van ekostelsels af nie, niks van termodinamika af nie, niks van biodiversiteit af nie – hulle is heeltemal onkundig oor daardie terreine. En ek kan nie insien watter kwaad dit vir ‘n ekonoom sou doen nie om te weet dat as die diere en die natuur verdwyn, hy ook sal verdwyn, want daar sal nie kos wees om te eet nie. Maar vandag se ekonome weet nie dat ons absoluut van die natuur afhanklik is nie. Hulle reken jou waarlik die natuur is ‘n substelsel van ons ekonomie. Dis totaal-en-al waansinnig!

Translated by Translator Brigades[email protected]